CombrinK Kronieke              Jun 2014
 
 



Liewe vriende,


Baie dankie vir julle getrouheid en toewyding om te bid vir die Kenyah Bybel vertaalprojek.


Beide Kenyah vertalers het die afgelope naweek tyd in die binneland van Sarawak spandeer  om gepubliseerde Skrifgedeeltes in Kenyah  te versprei (Genesis, Eksodus, en Lukas). Die vertalers het ook die geleentheid gebruik om inligting i.v.m. Bybelse kernbergrippe in te samel wat weer die vertaalproses sal verryk.


Hulle het ’n gesprek begin met die oudstes rondom die verskillende soorte geestelike wesens waarin Kenyah mense tradisioneel geglo het (gode, engele, duiwels, geeste, spoke, geeste van die dooies, en die onsterflike siel), waar hulle gewoon het (hemel, hel, die onderwêreld, of die wêreld van die dooies), en hoe hulle onsigbare wêreld sou lyk. Sulke dinge word dikwels vasgevang in tradisionele verhale.


Hulle het ook navraag gedoen hoe Kenyah mense tradisioneel vrede en ewewig met die geestelike wêreld sou bewerkstellig en wat hulle sou doen indien die bestaande harmonie deur menslike mislukking, siekte, of swak oeste ontwrig is. In animistiese kulture bestaan daar dikwels ’n uitgebreide stelsel van offerandes om die geeste en gode te paai en ook allerhande ander euwels in die natuur te voorkom. Dit word dikwels gekombineer – selfs deur Christene vandag – in 'n mengselmoes van morele en geestelike wette vir korrekte gedrag en vir die regstelling van oortredings.


Bid asseblief vir beide vertalers wat 'n interdissiplinêre  werkswinkel genaamd “Teologie en Kultuur” gefokus op Bybelse kernbergrippe vanaf 15–25 Junie in Kota Kinabalu, Oos-Maleisië gaan bywoon. Hulle sal daar vergader saam met vertalers wat werk in ander taalgroepe in 'n forum om gesprek te stimuleer rondom die uitdaging van Bybelvertaling in Maleisië.


Dink ook asseblief in julle gebede aan die konsultant kontrole op die boek Levitikus wat tans uitgevoer word. Bid dat hierdie proses die vertalers sal aanmoedig en sal lei tot 'n akkurate en leesbare vertaling van die Bybel in Kenyah.


Hans en die vertalers het oor die laaste weke saamgewerk aan die nuwe Kenyah webwerf in Kenyah en Maleis wat nou aanlyn is – gaan kyk gerus by www.kenyah.net! Dit is ’n klein begin, maar deur middel van hierdie webwerf is ons nou in staat om musiek en liedere, die Kenyah woordeboek, en gepubliseerde Skrifgedeeltes beskikbaar te stel. In die toekoms hoop ons om vertaalde Skrifgedeeltes in Kenyah deur middel van die Digitale Bybel Biblioteek op platforms soos YouVersion en BibleSearch beskikbaar te maak.


Dankie vir julle ondersteuning en gebede,

Hans, Patricia, Lucia, Charlotte, Danielle, Bernard en Anna-Sophia